Ek is sy.

En ek het vir haar gesê: “Hou jou bek en sit net bietjie stil.

Vat jou brein en sluk hom heel. Verteer die vloek woorde en bou jou muur daarmee heel.
In hierdie wêreld gaan jou vriende by jou steel.”

Ek vat haar hand en ly haar om die bos. Min weet sy wat dit haar gaan kos.
Ek vra haar hart, maar sy sê nee.
Sy gee haar smart en gee nog een tree.

“Wat sal dit kos om te vergeet? Die herinneringe is besig om my van binne af te eet.”

Ek antwoord haar nie, maar staar haar net aan. Dit lyk of haar mond nog woorde kan laat gaan.

Haar oë so groot sy kan daarmee toor, toe laat sak sy haar kop…
Iets het haar liefde gemoor.

“Tenspyte van hoe hard ek veg, het hy my hart en jy het my smart.”

Ek sien sy is arm en gee haar terug, haar smart kan niemand regtig bluf.

Sy kyk my aan en neem my hand. Sy vat haar smart, gooi dit in die lug en ons kyk daarna
soos dit in die gif beland.

Haar woorde was klaar en my oë verstom. Dat iemand so swak, tog sterk-wees kan laat blom.

Ek byt my lip sodat ek stil kan bly.
Sy kyk een keer om, en dis toe sy by die wal af gly.

Ek skree: “Hou jou bek en kom sit net bietjie stil.”
En dis toe sy agterna gil.
“Dis hier, dis nou waar jy van my vergeet. Ek het genoeg gesit en my mond gehou.
Laat my vry. Laat my gaan. Fok weet! Ek is moeg dat jy, my siek kop, my lewe probeer om dop.”

Ek kyk na haar. Ek kyk na my.
Liewe land.
Ek is sy.

Clanwilliam Nagte (Kortverhaal) (onvoltooid)

Hoofstuk 1.

Hier op die plaas is dit doodstil. Dis net nou en dan ʼn trekker wat hier verby ry. Die heel lekkerste van op die plaas bly is die kombuisvenster. Die groot kombuisvenster. Daardeur is somer mooi helder groen en vars. Jy vergeet van die hitte van die somer, maar in die winter bring die dorre wingerd net depressie.

Die poue hier in die tuin huil al van vroeg oggend af en die werkers is in die landerye besig om nat te lei. Die hout vloere kraak onder my soos my ma nader stap kombuis toe.

“Adriaan, maak tog vir jou suster koffie. Sy lê nog in die bed. Jy weet mos. Sy is nie een vir die oggend nie.”

My ma is goed met opdragte uit deel. Sy “rule en regulate” hierdie huis soos ʼn baas. My suster, Janke, is nou Matriek. Sy haat die plaas. Ek dink dit is al rede hoekom sy nie ʼn oggend mens is nie. Sy wil met alle mag net stad toe. Kaap toe.

Ek is ʼn finale jaar student by Elsenburg. Dis net hier om die draai. Ek is gereeld hier op die plaas in Clanwilliam. My suster sê sy haat hierdie huis. Al van kleins af. Sy glo dat hier geeste in die huis rond dwaal in die nag. Dit is ook glo haar rede vir laat slaap. Die huis is oud. Sonder twyfel. Regte Kaapse boustyl. Wit mure, met hout deurkosyne en hout vloere. Sy is ook niks lief vir my ma se poue nie. Ek dink my suster se verbeelding hardloop net met haar weg en ek dink sy kyk teveel flieks. Heel onnodig.

Daar was wel ʼn paar vreemde aande in hierdie huis. Ek het op een wintersnag wakker geword. My halfpad dood geskrik, want toe staan my suster langs my bed met haar lang pikswart hare wat oor haar gesig hang. Haar ysblou oë kon reg deur my kyk, maar ek het geweet sy loop in haar slaap. Die wasem woorde wat uit haar mond gekom het, het my laat skrik, en toe laat lag. Sy vra vir my of sy nog ʼn kop aan haar lyf het. Ek het nie geweet wat of hoe om te antwoord nie en het maar net gesê dat sy langs my in die bed moet in klim. Ek wou net gehad het sy moes ophou bang wees, of altans weird wees.

Ek kom by haar in die kamer. Haar duvet is oor haar kop getrek en haar Bybel lê oop langs haar bed. Ek loop nader om te kyk waar die Bybel oop is:

Psalm 55:2-6, Luister na my gebed, o God. Moenie my smeekgebede ignoreer nie! Luister asseblief en antwoord my, want my moeilikhede gee my nie rus nie. Ek is ontsteld oor die dreiging van my vyande, oor die druk van die goddeloses. Hulle bring ellendes oor my, en kweek vyandskap in hulle toorn. My hart pyn binne-in my. Die angs van die dood kom oor my. Vrees en bewing oorweldig my. Ek kan nie ophou bewe nie.

Daardie hele stuk is onderstreep in helder pienk met een groot uitroep teken by geskryf.

“Adriaan?”

Klink of sy redelik bang is.

“Ja Janke. Wie anders sal dit wees behalwe ek of ma? Pa is in die land besig om te sorg dat die mense hulle werk reg doen.”

“Okay, nee ek het net gewonder man. Kom klim in dan gesels jy bietjie met my. Ek haat hierdie eensaamheid.”

Haar oë lyk of sy gehuil het vir dae lank. Soos toe haar kêrel haar gelos het. Hy het aantygings gemaak dat sy mal is en dat sy hulp kort. My pa het ook so gedink. Sy het toe berader gaan sien, maar toe was dit asof sy stom is. Sy wou nie praat nie. Toe los my ma-hulle dit. As sy dan nie wil nie, wat kan mens doen? My ma het geglo dit was net ʼn fase. ʼn Fase wat hopeloos te lank duur na my sin.

“Hoekom kyk jy my so vreemd aan? Is iets fout?” “

“Ek lyk maar so in die oggende boeta.”

Sonder ʼn antwoord het ek net by die venster uit gestaar. Sy het die mooiste uitsig. Oor die landerye. Ver kan ek die bakkie in die land sien staan en ʼn mannetjie met sy arms op sy sye. Dit sal my pa wees.

“Luister jy wat ek vir jou sê?”

Janke klink kwaad en ontsteld. Ek het die gewoonte om uit te sny wanneer sy begin praat oor wat sy in die nag beleef het.

“Boeta! Hoor jy nie? Hier was weer iets in my kamer gisteraand! Toe ek opstaan om te gaan water drink het dit my agtervolg. Dis asof dit iets vir my wil sê.”

Ek kan hoor hoe bewe haar stem. Vir ʼn oomblik voel dit of daar ʼn deel is van my wat haar wil glo. Ek het ook al gevoel iets kyk vir my, maar ek ignoreer dit. My ma sê hier het ʼn ou vrou gebly met ses kinders. Haar man het glo selfmoord gepleeg op die stoep.

“Janke, ek weet nie wat jy hoor, voel of sien nie, maar probeer dit ignoreer. Kom slaap in my kamer vanaand dan sal ek hier slaap.”

“Briljant! Slaap jy hier. Dan sal jy sien ek praat nie nonsens nie!”

Hoofstuk 2.

Die kattebak slaan toe en Spyker, die baster brak, kom om die hoek gedraf. Hulle klim een vir een uit die beknopte kar uit. Die rit was lank en uitputtend en boonop moes ma nog inkopies doen. Hulle is almal in die koshuis, behalwe Gerrie, hy is ʼn laatlam. Hy het net saam gery.

Hulle sien my nie waar ek op die stoep sit en die laaste trek van my sigaret vat nie. Eers toe ma die deur oopsluit en in die proses vir Spyker probeer keer om nie die sakke inkopies te skeer nie, sien sy my.

“My kind! Waar kom jy vandaan?”

“Dag ma, ek het pas gekry. Gedink ek kom verras ma-hulle bietjie”

Die broers en susters groet my ook in single file kompleet asof Majoor Thomas-hulle so beveel het. Gerrie wil net weet waar is my bike. Hy groet skaars. Ek beloof hom ʼn spin later en stap saam ma kombuis toe.

“Waar is Pa?”

“Seker nog op die land my kind.

“Is hy steeds so in ʼn kak bui?”

“Jan, jy praat nie so in die huis nie!”

Dit is die army se skuld. Dit het my tong los gemaak soos jou maag as jy gippo guts kry, maar vandat ek uit die huis is en die swart ryp die hele oes laat vrek het, het hy meer en meer begin suip. Ek sal nie verbaas wees as hy nou eers sy whiskey skelm agter die bakkie se sitplek uithaal nie.

“Dit gaan nie goed met jou pa se gesondheid nie,” sê sy terwyl sy die inkopies wegpak.

Sy lyk moeg. Ek dink nie dit is maklik om vyf kinders in die huis te hê, een op die grens en dan nog ʼn man wat gesuip terug kom in die aande nie. Depressie is dalk vir party mense ʼn siekte, maar vir my is dit net ʼn slapgat houding wat as verskoning gebruik word om alkholisme toe te smeer. Ek luister maar na wat ma te sê het oor pa en al die kinders se skool-stories. Sy moet reguit hemel toe gaan, want sy het alle hel op aarde. Sy is ʼn rots in die huis, die gom wat alles bymekaar hou, of altans, probeer bymekaar hou.

Gerrie kom grootoog in die kombuis in. Ek ken daardie kyk. Die klein kak wil net saam my op die bike ry. Hy hou die helmet wat heeltemal te groot is skamerig vas. Nie asof dit veel gaan help nie, maar dit maak Ma rustiger.

“Asseblief Jan, net ʼn entjie?”

Sy albaster ogies smeek en ek gee in.

“Okay Asjas, kom ons ry gou voor dit donker is en pa by die huis kom”

Sy klein armpies klou styf om my middel toe ek die vet oopdraai. Ons het net by die naambord gedraai toe ek Pa se bakkie sien aankom. Hy het verby gery en halfhartig sy wysvinger van die stuurwiel af gelig om te waai. Ek het nog ʼn entjie aangery en omgedraai. Ek het by die huis ingetrek en eers my hare, wat die wind verwaai het, in die spieëltjie reg gemaak. Ek en Pa het nie veel vir mekaar te sê gehad nie, net gegroet toe is hy kamer toe.

Die naweek is stil en vinnig verby. Sondag het gekom en ons is almal kerk toe, behalwe Pa. Hy voel nie goed nie sê hy. Die kerk is warm en Dominee preek lang draaie. Ek sit en dink terug aan die pad terug basis toe. Die houtbankie raak hard onder my gat en my hemp kleef aan my sweterige rug vas. Gerrie lê en slaap op ma se skoot. Ek wens ek was weer so klein en onskuldig.

Daar gaan flitse deur my kop van my eerste keer wat ons kontak geslaan het. Johan en Corné was nie so gelukkig soos die res van die groep nie. Johan is eerste getref. Twee keer. Een in die bobeen en een in sy nek. Die tweede skoot was die doodskoot. Dit het sy hoofslagaar getref en Corné het tevergeefs gehardloop om hom te gaan haal. “No one gets left behind” het hy geskree Dit is toe dat die handgranaat langs hom land. Ons moes sandsakke in sy kis sit, want genoeg stukkies kon ons nie opspoor van hom nie. Hy is uitmekaar geruk reg voor my. Vir wat? Vir Fokken volk en vaderland?

Ek het Gerrie skrik gelyk wakker toe die Dominee “Amen” sê en die seën begin uitspreek. Ons gaan dadelik huis toe. Ons drink nie vandag tee nie. Ek is boonop nie lus om weer al die skinder stories van tannie Marie te sit en luister nie. Ons draai by die huis in. Dit is stil. Stiller as gewoonlik. Iets voel nie reg nie. Ek voel dit in my guts. Dit voel soos daardie aand voor die kak gespat het en Johan en Corné dood is. Ek stap in die huis in. Steeds is daar geen beweging of geruis nie.

“Pa?” roep ek.

Daar is geen antwoord nie. Ek stap in die kamer in, maar hy is nie daar nie. Dit is net toe ek omdraai wat dit my oog vang. Iets wat jy nooit in dié huis sou sien nie. Dit het my koud laat word. Die kluis se sleutel is steeds in hom en die deur is nie toe nie. Ek stap nader en maak die deur oop. Die leë spasie daar waar die haelgeweer moet wees maak my meer onrustig. Ek vat die 9mm en laai hom oor en stap uit. Ek beveel Ma en die res om hulleself in die kamer toe te sluit tot ek terug is, want ek weet nie wat aangaan nie. Dalk het iemand probeer inbreek. Ek weet nie, maar al wat ek wel weet is hier is groot fout. Wie sal helder oordag inbreek en ek twyfel of Pa op ʼn Sondag sal duiwe skiet met die haelgeweer.

Ek stap om die huis en ek sien Pa op die stoep sit met sy rug na my toe.

“Pa?” roep ek weer.

Hy skrik en stamp die whiskey bottel om.

“Wat maak Pa op die stoep met die geweer?”

Hy antwoord nie. Hy bly net daar sit. Ek stap nog nader en laat die pistool sak.

“Ek is jammer” sê hy saggies.

“Jammer oor wat?”

My woorde was skaars koud toe klap die skoot. Dit witgekalkte muur word skielik rooi en die spatsels tref die dak en my gesig. Ek val op my die grond neer en my ore sing. Net soos Corné en Johan skeer ammunisie nou deur sy vleis en kop. Dit is nie die ergste nie, want om die hoek skeer ʼn huiwerige stemmetjie se woorde deur my vlees.

“Jan?”

Hy het dit als gesien. Hoekom moes Gerrie dit alles sien?

Hoofstuk 3

Dit begin darem nou later donker raak. So my vrees vir die nag kan eers vir so rukkie op sy staan. Ek het nooit in geeste geglo nie. Ek het gedink ek verbeel my, tot alles te real begin voel het. Ek weet dis ʼn man. Die gees. Soms hoor ek hom sy keel skoon maak en soms hoor ek hom asemhaal. Hy het al my naam ook gefluister. Ek hou my doof vir dit, of altans ek probeer. Ek hoop dat Adriaan vanaand iets sal sien of voel. Sien sal beter wees. Sien is mos glo. Ek loop maar na buite en gaan sit daar waar die poue pronk. Die helsem moet net nie besluit om my te jaag nie. Ek span my voete uit op die gras. My arms stut my bo lyf. My pa is nog steeds in die land.

“Janke, jy moet vir jou gaan aantrek. Asseblief tog.”

Ek weet nie wat kerm my ma so oor aantrek nie. Ons is tog op die plaas. Niemand kom ooit hier nie, ook nie eens my vriendinne nie. Hulle is te bang vir die ou plaas huis.

“Janke ek praat nie weer nie. Ek ry nou om paar inkopies te doen. As ek terug is, het jy klere aan.”

“Ja ma!”

Ek staan maar op en stap in die huis in. Ek loop in die gang af en die houtvloer wat onder my voete kraak herinner my aan die nag. Aan my vrees vir die nag. ʼn Yskoue rilling hardloop teen my rug af. Ek ignoreer dit. Ek staan doodstil voor my kamer. Ek maak die deur oop en staan nog ʼn rukkie voor ek in gaan. Die dood. Ek sê vir jou dit voel soos die dood. Die foto’s teen my mure staar na een rigting en almal glimlag. Die lewe is ʼn lied. So sê hulle. Stadig sit ek een voet voor die ander een. Ek pluk die pajamas van my lyf af, trek ʼn rokkie oor my kop, maak my hare vas in ʼn bolla en smeer room aan my gesig, sommer so terwyl ek uit stap en die kamer deur agter my toe maak.

“En dat jy die deur so toe gooi?”

“Adriaan!”

“Hou op so skrikkerig wees. Die sonskyn hoog. Jy sal fine wees. Ek gaan nou land toe, na Pa toe. Bel maar as jy my nodig het.”

Adriaan loop weg. Ek wil hom aan sy arm gryp en nader trek. Ek wil nie alleen hier wees nie. Ek kyk na die foto’s wat teen die muur hang in die gang. Foto’s van Pa en sy werkers na baie goeie oeste en duisende foto’s van die familie. Dit is net ooms, tannies, niggies en nefies oral waar jy kyk. Sommiges is maar lelik. Soos ou Dawie. Kyk net daardie bakore en Kobus se neus. Die arme nefies het maar die swak gene gekry. Ek loop maar verby die klomp gesigte in die gang en gaan span myself uit buite op die gras.

Ek het net gelê toe kom Gerrie verby gery. My pa het my vertel van Gerrie. Hy is glo die laat lam van ses kinders wat voorheen in hierdie ou plaashuis gebly het. Dit is nie die eerste keer wat ek hom hier sien verby ry nie, maar dit gebeur so min. Hy is soos die skim. Die mense op die dorp sê dat hy ʼn introvert is en ook ʼn kluissenaar is. Dit traak my nie regtig veel nie. Ons het niks met hom elk geval te doen nie.

My pa en my broer lyk presies dieselfde van ʼn afstand af. Hulle staan tot dieselfde. Hande op die heupe. My broer loop nou na sy bakkie toe en klim in. Ek kan dit sien van hier af. Hy is op pad huis toe. My ma het ook nou hier gestop. Ek stap na haar bakkie toe. Ek weet nie hoekom moet almal in hierdie gesin tog bakkies ry nie. Seker oor die grondpad, ek weet nie. Ek maak die agterste deur oop en haal van die inkopies uit. Ek hoor my ma praat, maar ek luister nie. Sy moan nou net weer. Ek is te in vervoering met my eie gedagtes.

“Janke! Luister jy?”

Gil ou Sandra nou op my.

“Nee ‘skuus mamma. Sê asseblief weer.”

“Jy moet jou ore oop maak as ek praat. Jy moet asseblief vir my hierdie paar goedjies uit pak. Ek gaan solank begin met middagete. Jou pa en Adriaan sal seker nou by die huis wees en hulle sal rasend honger wees. Ek is darem bly om te sien jy het aangetrek.”

“Ja mamma. Kan seker nie heeldag in my nagklere loop nie nè?”

Ek sit die sakkies op die kombuis toonbank neer en begin weg pak. Alles wat in die yskas kom word eerste uit gepak, dan alles wat kos kas toe moet gaan en heel laaste alles wat in die badkamer hoort.

Adriaan kom stop met ʼn spoed hier by die huis. Dis net stof wat staan. Ek sien my ma se gesig. Sy lyk nie baie happy oor hierdie stof wat nou oor die huis val nie, maar ek weet sy sal niks sê nie. Pa doen dit ook. Kort na Adriaan gestop het, kom stop pa ook voor die huis. Ek wonder wat lyk hulle twee so haastig. Seker maar vreeslik honger.

Hoofstuk 4

Ek was jonk, so jonk. Die mense sê dit is dalk beter dat ek hom op so jong ouderdom moes verloor. Dat dit soort van makliker maak omdat ek hom nie so goed geken het nie, maar ek onthou. Ek onthou alles. Ek onthou sy stoppelbaard as ek hom moes soen voor ek skool toe gaan. Weet nie hoekom die mans mekaar in die huis moet soen nie, maar dit is hoe ek groot gemaak is. Ek onthou nog die dag toe hy my die vernedering voor my vriende wou spaar en ewe sy hand uitgesteek het om my met die hand te groet.

Ek onthou hoe ma aande aaneen gehuil het. Ek onthou dat Jan net soos hy begin suip het. Ek onthou die brul van sy motorfiets wat wegry terwyl ma nog staan en huil voor die graf. Dit is die laaste wat ek vir Jan gesien het. ʼn Paar maande later het die kolonel die nuus gebring. Jan is vermis in aksie.

Ek onthou hoe die hele familie uitmekaar geval het. Ma het meer en meer agteruit gegaan. Sy het al haar varkies verloor. Sy was na ʼn inrigting gestuur. Daar het almal haar gelos om te vergaan. Sy het ook ʼn slagoffer geword van alzheimer. Sy herken niemand meer nie. Ek vat so nou en dan nog vir haar die basiese. Seep, melk, brood en ietsie soet, sy was tog so lief vir ietsie soet. Sy herken my nooit nie. Eendag het sy my herken. Soort van, sy het gedink ek is my pa. Hulle sê ek lyk nogal soos hy. Ek sal nie onthou nie, want ek was te jonk.

Dit het goed gegaan met tye. Dit het gevoel of alles normaal is, maar dan sal daar weer ʼn geveg uitbars, ma se kop sal clutch en sy sal sommer met haar nagrok in die wingerde instap, want sy hoor kamma vir pa roep. Ek moes, na Jan weg is, na alles kyk. Dit het so aangehou tot ons die plaas verloor het. ʼn Ryk sakeman van die stad het die plaas gekoop. Die ergste van alles is ek werk vir hom, op my eie plaas!

Zelda was darem daar gewees om my op die pad te hou. Sy was perfek. Ek sou my lewe vir haar gee, maar my opgekropte aggressie en gereelde kuiertjies by die plaaslike pub and grill het vir haar te veel geraak, of dit is altans wat ek vir myself sê. Wat werklik in haar kop aangegaan sal net sy weet. So hier sit ek met my bottel brandewyn, stok siel alleen op ʼn Saterdagaand en ek wonder: Was dit werklik beter? Was dit beter dat ek so jonk was toe ek hom moes verloor het? Fokkit ek onthou alles! Ek onthou Jan se geskokte gesig, die bloed teen die witgekalkte mure en toe Jan wat my vasgryp en met my in die huis in hardloop, terwyl ek sy lewelose liggaam sien lê daar op die stoep.

Ek vat nog ʼn sluk van die brandewyn en stoot die woorde tussen my tande

“ Was dit beter?”

Ek is ʼn kluisenaar te bang om die huis te verlaat, te bang om die stories in die dorp te hoor van hoe mal ma is en al die siestog, foeitog van die melkterttannies by die kerkbasaar. Ek is bang ek loop in Zelda vas. Ek is bang sy sien hoe ek uitmekaar gebliksem het en die mislukking geword het wat sy gesê het ek gaan word. Ek is bang.

Dit alles omdat hy besluit het die lewe is te erg en dat dit makliker is om ons hier op aarde te los om te vergaan. So ek drink op jou vanaand, Pa en sommer ook op jou Zelda. Die twee mense wie jy die liefste het, maar wat jou tot in die diepste van jou siel opfok!

Gerrie. My naam weerklink in my kop van die bloed-bad dag. My ma, my arme moeder. Soms kan mens nie al die gebeure in jou lewe die blaam gee nie, maar hierdie gebeurtenis was eens te veel. Dat my ma haarself nog nie dood getreur het nie is ʼn wonder werk. Ek dink ek moet weer na my ma toe gaan in die Kaap. Sy is in ʼn inrigting. Ek dink nie sy sal gou uit kom nie. Geen berader kry met haar gewerk nie. Sy wil nie saam werk nie. Sy is maar ʼn ou hardegat vrou. Ek dink sy is nog steeds. Ek sal moet by haar uit kom. Ek sal sommer vandag nog ry. As ek nou ry sal ek vanaand daar wees.

Dit het my hele drie ure geneem om hier uit te kom. Die verkeer was nogal besig. Soos ek instap by die psigiatriese inrigting se deure hoor ek ʼn vreeslike gegil. Die vrou skree en skree en sy roep ʼn man se naam.

“Jan!”

My ma. My liefste moeder. Jan is nie meer hier nie.

“Goeie dag meneer kan ek jou help?”

Ek skrik my half in my moer in.

“Ja. Ek soek na Susan De Jager. My ma.”

“Is jy Jan?”, vra die vrou met ʼn halwe verligting in haar stem.

“Nee tannie. Gerrie. Haar jongste seun.” Sy kyk my skepties aan en beduie met die vinger by die trappe op. Ek loop agter haar aan. Drie stelle trappe tot bo.

“Jan!”

Sy wys met haar oë na kamer nommer 46. Daai nommer slaan sommer ʼn mes in my hart in en daar ontstaan ʼn ongemaklike knop in my keel. Ek vat aan die deur en stoot hom stadig oop.

“Mamma?” Sy kyk nie eers in my rigting nie.

“Jan! Vang vir Spyker hy hol by die hek uit!”

“Mamma dis ek. Gerrie. Ma se jongste.” Skielik kyk sy na my. Haar oë is nog net so groot soos die dag toe my pa daardie sneller getrek het.

Sy kyk net. Dis al. Dit lyk of sy my wil onthou. Haar mond gaan oop. Sy draai haar lyf na my rigting toe. Sy sit op ʼn groot groen bank. Baie gemaklike bank as jy my vra. Die bank staan voor die venster in die son. Sy het ʼn uitsig van Tafelberg en die voorstad.

“Gerrie? My kind, Gerrie?”

Ek gaan sit op die bank regoorkant my ma. Sy is maer. Ek wonder of sy ooit eet.

Ek kyk rond in die kamer en sien in die hoek staan ʼn bord kos. Wonder hoe lank staan daardie bord al daar. Op haar bed lê ʼn pakkie van haar gunsteling sweets. Wine gums. Ek gryp die pakkie en gryp sommer ʼn hand vol.

“Ja mamma. Ek is Gerrie.”

“Gerrie is nog klein. Hy wag vir Jan om van die army af te kom. Jy sal moet loop meneer. As my man jou sien sal hy jou vrek skiet.”

Ek gooi die pak lekkers op die bed.

“Ek is Gerrie Dêmmit! Jan is dood. Jan is dood!”

Daar kom ʼn vrou by die kamer in gehardloop. Sy vra dat ek moet gaan. Ek sien my ma se oë lyk leeg en kyk my aan soos die vrou my aan die arm beet het. Ek kyk nog een laaste keer om en trek die deur agter my toe. Ek ruk myself los uit die vrou se greep. Ek sê vir haar ek wil net tyd hê om af te koel. Ek wil met my ma praat. Sy los my en gluur my aan soos sy in die gang af weg stap.

Ek val met my kop teen die muur en sak af op my hurke.

Het ek dan die pad verniet gery? Mors ek dan my tyd by die vrou wat my ken as nog ʼn kleintjie. Wat nie weet wie ek nou is nie. Ek kyk na die deur. ʼn Groot nommer 46 is op die deur geplak. Ek staan op. Haal diep asem. Ek stoot die deur weer oop.

“Jan, Gerrie wag vir jou. Hy wil bike ry. Moet net nie laat jou pa jou sien nie.”

“Nee ma. Ek gaan nie nou bike ry nie. Gerrie kan wag. Ek is hier om te hoor hoe gaan dit met ma. So hoe gaan dit mamma?”

“Jan my kind hoe mis ek nie jou stem nie.”

My hart breek. My hart breek in miljoene stukke en dit voel of dit scatter in die wind en verdwyn oor Tafelberg. Ek gaan sit weer by haar.

“Hoekom kom jy so min huis toe? Het jy gesien jou pa is nog steeds op die Whiskey? Ek dink hy sal homself dood drink. Jan. Jan, hy sal homself dood drink. En Gerrie, watter voorbeeld het die arme babatjie van my nie? Hy is nog onskuldig. Maar ek sien nie die klein klits nie. Jy moet hom soek. Hy wag vir jou.”

Ek kon my trane nie terug hou nie. Jan waar de hel is jy? Is jy nog vermis? Is jy dood? Waar is jy?

Hoofstuk 5

“Adriaan! Wanneer laas het jy vir Gerrie gesien? Die man moet mos op die plaas wees. Hy is nie verniet voorman nie!”

Word ek nou uitgetrap omrede die voorman nie hier is nie. My hel man.

“So twee dae terug. Onthou pa, sy lewe is mos nie maklik nie. Ek hoor sy ma is in die malhuis.”

“Adriaan mens sê nie malhuis nie.”

My ma het ook altyd iets te sê. My suster lewe ook net. Haal net asem en beweeg soos ʼn wind deur die huis.

Gerrie is maar vreemd. Ek het al baie stories gehoor. Tannie Zelda het hom gelos oor al sy gedrinkery. Hy het dit seker by sy pa ge-erf.

Sy kamer was blykbaar die kamer waar Janke nou slaap. Ou Janke moet net bietjie by kom voor sy ook in die malhuis sit. Sy het ʼn vrees vir vreemde mense en ʼn vrees vir die nag. Maar ek het haar belowe om in haar kamer te slaap vir ʼn paar aande. Ek wil nou sien of ek ook sien wat sy sien en hoor wat sy hoor. Sy sê daar is ʼn mansstem. Sy weet nie mooi altyd wat sy hoor nie, maar sy hoor die mansstem. Ek wonder of iemand met haar praat of pla haar gedagtes haar so dat sy al goed begin hoor en sien en net sy glo dit.

Die nag het gekom en die nag het gegaan, maar daar was niks nie. Janke sê een nag is te min. Ek moet langer daar slaap in haar kamer.

So het nog ʼn nag gekom en gegaan en daar was weer niks nie. Janke is histeries want sy kan nie verstaan hoe kan daar net niks wees nie.

Ek maak toe ʼn ander deal met haar. Ek sal by haar slaap in die kamer wanneer sy gaan slaap. Al slaap ek op ʼn matras. Ek kry my suster jammer man. Sy is my ou sussie en ek wil haar help. Al beteken dit om op die vloer te slaap.

Die nag is koelerig, vanaand van alle nagte. Janke lê en haal diep asem. Ek loer op die bed en sien dat sy slaap. Oop bek. Ek kry eintlik lag. Sy het nie eers vanaand Bybel gelees nie. Ek wonder of sy bietjie meer gerus is omdat ek hier is. Ek lê op my rug en staar na die dak. Ek voel hoe swaar word my oë en hoe my hele liggaam net ontspan.

Ek hoor klippies wat skuif. Ek rek my oë groot oop en sit regop. Janke is nog in die bed. Ek lê weer plat. Dis dalk die poue wat hier buite rond dwaal. Dit klink of die deur oop gaan. Nee man Adriaan jy verbeel jou.

Die plank vloere kraak stadig. Dis dalk net die wind. Diè is mos ʼn ou huis. Ek draai om en staar by die venster uit. Ek kan die maan sien vanuit haar kamer venster. Ek kan nie dink hoekom gaan almal so aan oor die volmaan nie. Die halfmaan is net so mooi. So sekel.

Daar is ʼn skaduwee by die venster. Ek hoor iemand loop. ʼn Hand druk teen die ruit en klippies skuif weer. Skielik is dit stil. Ek wonder of Janke dit gehoor het. Ek wonder of ek haar moet sê ek het goed gehoor en ek wonder of ek nie eerder maar my mond moet stil hou en niks sê nie. Ek dink ek gaan niks sê nie. Nie nou nie. Dalk was dit ʼn dronk werker wat bietjie die pad mis geloop het. Ek fokken hoop so, want wat anders was dit? Wie sal tog in die nag rond loop en ʼn hand druk teen die ruit kom los sonder om te probeer inbreek?

Dit is vir lank stil. Dit klink amper of daar ‘n windjie is wat waai, maar ek akn nie mooi hoor nie. Ek is nogal uit geput. Dit voel of my ooglede getrek word met toue en my oë om dop.

Die son bak teen my gesig en Janke staan met ʼn beker koffie in die hand langs my matras. Dit is ʼn wonderwerk. Sy is vir eens die een wat eerste uit die bed uit is buiten my pa. Ek neem die koffie uit haar hande en sien hoe sy weg stap badkamer toe. Sy draai die badwater oop en maak die deur toe. My ma kom in die kamer in.

“Adriaan. Wat gaan met jou suster aan? Is dit omdat jy hier geslaap het?”

“Ek weet nie ma. Ek weet regtig nie. Sy het vir my koffie gebring en sy het nou gaan bad. Sy lyk vir eens uit gerus en of sy nie gehuil het heel nag lank nie.”

“ Het jy iets gehoor Adriaan?”

“Ja ma. Maar ek gaan haar nie sê nie. Ek gaan my bek hou. Hier was iemand ma. Ek het voete hoor loop op die grys in die tuin en daar het ʼn hand gedruk teen die ruit. Daar was weer ʼn geskarrel en toe raak dit weer stil. Ek dink nie Janke is mal nie. Ek weet nie. Of dit was een van die werkers wat dronk was wat die pad mis gedrink het. Ek weet nie. Ek kan nie sê nie.”

“Adriaan ons gaan iets moet doen daaraan. Ons gaan jou pa moet sê. Wie kon dit dan nou gewees het?”

My ma staan daar en staar my met groot oë aan. Ek oorreed haar om dit te los, vir eers. Ek sluk my koffie af en staan op toe Janke met handdoek om die lyf die kamer in kom.

Die water val hard teen my rug. Die waterdruk op hierdie plaas is uitstekend. Voel glad of ek gemassage word. Ek maak my oë toe en staan vir  ʼn rukkie net onder die water. Ek druk my hand teen die stort deur. Skielik onthou ek weer wat ek gisteraand gesien het. Ek kry nie daardie hand teen die ruit uit my kop uit nie. Ek gaan haar nie vertel nie. Ek kan haar nie sê nie. Sy sal uit freak. Sy sal totaal en al mal word en dan sal ek haar moet oppas die hele vakansie. Wat as ek dan terug gaan Elsenburg toe? Sy sal dan by my ma-hulle in die bed gaan klim. Daardie sussie van my. Ek weet nie meer nie.

“Maak gou! Ek moet grimeer!”

“Grimeer? Vir wat?”

“Adriaan!”

Ek haat dit as sy my naam so uit rek. Dit klink bloot soos ‘n trekklavier op steroids. Ek spoel my hare af en draai die krane toe. Ek kyk na my handdruk teen die glas ruit. Daar moet definitief vinger afdrukke teen die venster wees. Ek gaan daardie ruit moet was voor my suster die handdruk sien. Ek wonder of jy ʼn speurder kan laat kom en kyk na die handdruk? Laat hy toetse doen en kyk of mens nie kan bepaal aan wie behoort die vinger afdrukke nie. Dit beteken ek gaan my pa moet vertel. Ons moet dit so doen dat my suster nie daarvan weet nie. As sy weet, my mens. Sy sal dit nie hou in die huis nie. Dit sal in elk geval te veel geld kos om ‘n speurder te laat kom.

“Jy moet leer om jou handdoek vas te hou boeta! Liewe Hemel. Ek wil nie jou hele package  sien nie.”

“Ag relax man.”

Sy moan oor alles. Sy is my ma se kind. Ek trek ‘n hemp oor my kop en vryf my vingers vinnig deur my hare. Die girls love hierdie hare. Toe ek en Anrieke nog saam was, het sy altyd haar vingers deur my hare getrek as ek haar warm gevry het in die kar voor haar koshuis. As ons erens heen gery het was haar vingers in my hare. Sy was gedurig in my hare. As ons vry, ry en stry.

My oog vang die afdruk teen die ruit. Ek tree een tree terug en kyk weer. Mens kan sien daar is ‘n afdruk. Dit lyk darem nie soos ‘n hand nie, maar ek dink as jy dit van naby moet gaan kyk lyk dit soos ‘n hand. Dat hierdie simpel ding nou my steamy  gedagtes van Anrieke so sal disturb.

Die Mister Muscle sal nou maar die trick moet doen. Daardie afdruk moet af kom.

“Hoekom was jy my ruit?”

“Janke, moenie vrae vra nie. Gaan help eerder vir ma in die kombuis. Sy is besig om kook kos te maak en ek dink jy moet bietjie leer. As jy eers op jou eie moet bly gaan dit maar sukkel-sukkel gaan as jy niks weet nie.”

Sy kyk my skepties aan en ek kat-stert haar met die punt van die lap. Ek stap uit haar kamer uit en loop kombuis toe. My ma gluur my net aan. Ek dink sy weet presies wat ek nou gedoen het. Ek steur my nie vreeslik aan daardie gluur van my ma nie, want nou-nou dan glimlag sy weer. Sy weet ek kom tog net vakansies huis toe. Anrieke was laaste saam met my hier. Sy kon ook nie my suster verstaan nie. Anrieke. Daai girl  kort ‘n boer. ‘n Boer wat haar wêreld kan roer want blykbaar kon…

“Waaraan staan en dink jy so?”

“Jinne mamma. Ek wonder sommer net oor Anrieke. Niks ernstig nie.”

Ek tik my ma op die skouer en loop uit bakkie toe. Ek gaan eerder ‘n draai ry na my pa toe en uit help op die land. Oor liefde wil ek nie nou praat nie.

♪ “Eks jou een man army. Ek kom jou haal. Een man army. Jou korporaal…”

Hierdie song het ek vir Anrieke gespeel. Ek haal my foon uit my sak uit en sien dit is wragtig sy wat my bel. Net toe ek antwoord ry Gerrie verby en gluur na my kant toe.

Hoofstuk 6

My broer is nou hier weg met ‘n spoed. Hy is nie lekker in sy kop vanoggend nie. Hy is nou die mal ene. Hy het hier gestaan en dag droom in die kombuis, ek het gehoor hy sê iets van Anrieke en toe is hy hier uit. Hy staan hier buite en praat op die foon. Gerrie is ook hier verby en my boetie het my kamerruit gewas. Maar ook nie eers die hele venster nie. Net so kol-kol. Wat gaan met hom aan? Hoekom gaan mens ‘n venster so plek-plek wil was?

Ek probeer met my ma praat oor my broer se vreemde maniere vanoggend maar sy praat dit dood. Sy praat nou oor ‘n ou bottertjie in soetpatat en in die pampoen. Hulle maak my so kwaad. Hulle eet so ongesond. Ja, groente is gesond, maar sonder al die botter, suiker en souse.

Ek probeer maar ogie gooi en kyk wat my ma doen. Ek moet seker een of ander tyd leer hoe om kos te maak. Ek wil nie eers daaraan dink om alleen te bly nie. Ek glo ek sal darem makliker slaap. Maar wat as ek nie doen nie?  Wat as dit my volg en gaan daar waar ek gaan? Wat as dit ‘n demoon is? Wat as dit ek is? Wat as ek so mal is soos Gerrie se ma? Ek wil nie soos sy op eindig nie. Magtig man! Ek is nie mal nie. Ek weet dit. Eendag is eendag dan sal Adriaan hoor wat ek hoor en sien wat ek sien! Hulle sal my dan glo.

Wat as Adriaan gisteraand iets gesien het en hy is dalk net te bang om iets vir my te sê? Ek het hom ook nie eers gevra nie. Ek het so vas geslaap. My hele gemoed was rustig omdat my broer op die vloer geslaap het. Okay, dit klink vreeslik. Shame, maar dit is darem vir ‘n goeie doel. Ek glo.

Hoofstuk 7

Ek is al weer laat. Ek is die voorman en ek is al weer fokken laat. Die baas gaan nou seker weer sy moer behoorlik strip. Ek ry moontlik dalk bietjie te vinnig, maar ek het nie veel van ʼn keuse nie. Die growwe klippe skiet onder my tyres uit en ek korrel mooi om oor die nou bruggie te ry. Wie die fok sou op hierdie Gods verlate plek ʼn huis wou bou. Ek draai van die brug af en ry deur die lang laning dennebome. Ek onthou die plek, al was ek sò klein. Ek kyk uit gewoonte op na die bome om te kyk of ek nie ʼn aap of twee kan sien nie.

Die dak begin uitsteek en ek kry ʼn kol op my maag. Elke keer as ek hier verby ry dan kry ek daardie knop op my maag. Ek moet dalk stadiger ry, want daardie krulkop kind is dalk weer besig met sy BMX toertjies in die pad. Ek verminder spoed en kyk na huis, ek sien die stoep, daar waar ek laas my pa gesien het. Ek draai om die huis en hier staan die klein fokker ek wonder watse kak hy nou weer aanjaag. Ek het hom daardie eenkeer saam iemand op die dak sien klouter om skelm te rook. Ek groet maar so halfhartig in die verbygaan.

Die mense bly nog nie lank hier nie. Ek sien net gereeld in die verbygaan die laitie en hy het ʼn sussie ook. Ek het haar eenkeer sien tan op die grasperk. Sy het nogals ʼn lekker lyfie aan haar vir so jong dingetjie.

Ek is nog nie gewoond dat daar mense bly nie. Ek het altyd na ek ʼn dop of twee agter is, effens geswaai hier op die stoep kom sit. Ek het dit nou die aand weer perongeluk gedoen, het skoon vergeet dat hier mense bly.

Ek begin nou deur die wingerde aankom. Dit is hier waar my ma al haar bearings verloor het. Sy het een aand hier in die kanaal met haar nagrok aan kom swem. Sy was vas oortuig sy sal skoon gewas word van al die spoke wat haar jaag.

Baie aande het ek by die huis kom sit en gewonder wat van Jan geword het. Ons het begrafnis gehou, maar iets voel nie vir my reg nie. Ek dink hy moet nog daar iewers wees, of dit is net so omdat ek wil hê hy moet nog hier wees.

Hoofstuk 8

Vandag was ʼn lang dag nadat die baas my weer behoorlik uitgekak het, het ek maar uit oudergewoonte my pad gevind na die plaaslike pub and grill toe. John het weer vir my ʼn stywe een gegooi, maar na die vierde een proe ek nie meer die verskil nie. Ek sit net en staar voor my uit, vat ʼn sluk en staar dan weer.

Dit is ʼn stil aand vanaand. Oom Trappies is hier, maar hy is altyd hier. Hy het die naam hier gekry. Hy raak so geswaai hy donner neer oor enige iets wat soos ʼn trappie lyk. Sarah is ook hier. Sy kyk seker weer wie gaan dronk genoeg raak om haar te wil spyker. Ek moet sê vir ʼn vrou van 40 met vier kinders span daardie borste nog styf in daardie toppie. Dit is dalk ook net die brandewyn wat dit nou so laat lyk.

Ek klim in my bakkie voordat ek verder oorweeg om vir Sarah huis toe te nooi. Ek sukkel-sukkel om die sleutel in die ignition te kry. Ek weet ek is nie veronderstel om te ry nie. Ek draai weer op die grondpad en net voor  die nou brug, lyk dit heeltemal te nou. Ek stop my bakkie en klim uit.

Ek stap verby die laning bome en hoor ʼn aap skarrel. Ek kyk op en sien hoe mooi die sterre lyk. Dit is pikdonker. Ek strompel-strompel in die pad af en hoor die stroompie hier onder my. Ek onthou nog hoe Jan vir ons trappe gebou het tot onder sodat ons daar kon swem. Ek het ook eenkeer vir Jan en sy meisie gevang skinny dip hier onder, maar ek het gemaak of ek niks gesien het nie.

In die verte sien ek ʼn lig wat brand. Dit is die huis. Ek stap stadig en saggies om die huis om te kyk hoekom die lig brand. Dit is die badkamer se lig wat brand. Skielik onthou my drankkop dat daar mense bly. Ek stap steeds stadig nader. Ek sien beweging. Ek hurk agter die muurtjie. Dit is die sussie. Sy is besig om te stort. Ek wil wegkyk, maar ek kan nie. Sy dink seker niemand kan haar sien nie. Sy klim uit en ek staar verstom.

Hoekom stort sy die tyd van die aand? Ek stap regs om die huis tot by haar venster. Ek verloor my balans en druk teen die ruit. Ek koes vinnig en kruip om die hoek. Haar broer kom nader aan die ruit gestap.

“Wat kyk jy boeta?” vra sy.

“Nee, sommer niks,” jok hy.

“Ek sé jou daar is iets en dit is nie my verbeelding nie,” sê sy toe hy die kamer verlaat dat sy kan aantrek. Sy kom tot by die venster en trek die gordyne toe. Daar is ʼn skrefie oop ek staan op en sien hoe sy haar handboek laat val.

Dit was te lanklaas wat ek ʼn vrou se naakte lyf kon ervaar. Sy verdwyn agter die toe deel van die gordyn en ek gaan sit weer en lê met my rug teen die muur. My kop draai vreeslik nou van die brandewyn. Die lig gaan af en dit raak doodstil. Ek wil nie dadelik opstaan nie, net nou hoor sy my. Ek raak vir ʼn oomblik aan die slaap.

Ek word na ʼn ruk wakker van voetstappe op die grysklippies. My hart begin vinnig klop. Het hulle my gesien? Het sy vir die baas gesê. Weet hulle ek het haar afgekyk? Ek lê doodstil. Ek hoor die badkamer venster gaan oop. Ek loer saggies om die hoek en sien ʼn man!

Ek lê weer terug en sekondes later kyk ek weer. Ek sien net die man se been wat in die badkamer inklim van buite af! Moet ek iets doen? Moet ek die mense wakker maak? Hoe gaan ek verduidelik hoekom ek hier is die tyd van die aand?

Ek gaan lê weer teen die muur. Ek hoor die plankvloere begin kraak. Ek loer deur die skrefie gordyn wat oop is en sien sy skaduwee. Hy draai na die kombuis toe, maar hy het iets in sy hand. Ek hoor ʼn sagte gevroetel in die kombuis. ʼn Kas gaan stadig oop en weer toe. Ek koes weer. Die plakvloere kraak weer. Ek kyk op.

Daar staan hy nou!

In haar kamer deur! Hy staan net daar en kyk vir haar.

Ek probeer uitmaak. Wat hy in sy hande het. Hy lig sy hand op en bring dit tot by sy mond. Dit is ʼn bottel, hy drink iets. Ek hoor hoe sy begin rondrol sy moet aanvoel daar is iets.

”Boeta?” vra haar stem benoud.

Die figuur draai om en verlaat die kamer, maar daar is nog iets in sy ander hand ook. Haar broer sit nou regop langs haar bed waar hy op ʼn matras slaap.

“Hoesit?” vra hy deur die slaap.

Sy maak hom stil. “Hoor jy dit?”

Die vloere kraak weer saggies in die kombuis. Ek probeer so hard om te hoor wat hulle sê ek verloor my balans en druk teen die ruit.

”Daar is iets by die ruit!”

Ek koes vinnig en hardloop gebukkend om die huis tot by die voordeur. Ek gaan lê agter die muurtjie van die stoep. Shit! Hulle dink nou dit is ek! Waar is die figuur heen wat in haar deur gestaan het? Na ʼn oomblik raak dit weer stil. Hulle dink seker nou weer dit is hulle verbeelding. Ek kruip saggies om die hoek en daar sien ek hom weer!

Die figuur van net nou!

Hy sit met sy rug na my toe. Hierdie beeld lyk heeltemal te bekend. Hy sit net soos wat my pa daardie tyd gesit het. Hy steek sy hand uit na die bottel en vat ʼn sluk. Hy hoes saggies.

Ek stap stadig nader.

naand Gerrie,” sê die figuur

Ek is stom geslaan. Onseker wie dit is. “Naand?” groet ek terug

Die figuur lig sy ander hand, hy hou iets vas. “Ek het gehoop jy kom nie, nie weer nie,” sê hy.

Dit is ʼn pistool in sy hand ek raak yskoud. Dit is asof daardie dag van voor af begin afspeel voor my. Ek glo nie in spoke nie, maar hierdie begin nou meer en meer soos my pa lyk.

Die figuur haal nog iets uit sy sak uit. Hy skroef dit voor aan die pistool vas. Dit is ʼn silincer.

“Ons wil tog nie die mense wakker maak nie wil ons? Die stomme meisiekind dink die huis spook, vir weke en weke is dit al my roetine. Ek soek antwoorde, Gerrie, maar ek kry dit nie. Al manier hoe ek hierdie vrae wat in my kop brand kan blus, is as ek dit weg blaas!”

Hy druk die pistool teen sy kop. Ek stap nader en probeer hom keer. Hy draai sy kop en die maanlig val op sy gesig. Ek is stomgeslaan. Ek kan my oë nie glo nie. Dit kan nie wees!  Dit is onmoontlik.

Jan?

“Surprise!” sê hy

Hoofstuk 9

“Adriaan! Die keer het jy iets gehoor. Ek en jy het iets gehoor. Sê vir ma. Sê haar!”

Adriaan het gehoor. Ek weet hy het. Ek het die man gesien ook. Hy kom nader gestap en gooi sy vris arm om my skouers. Hy druk my teen hom vas. Ek kan nie help as om te knak onder die vertroosting nie en ek bars in trane uit.

“Janke jy is reg. Ek het ‘n man gesien ook. In die gang en ek het hom hoor uit stap buiten toe. Daar wa s’n geskarrel buite en dit was asof daar stemme was.”

“Wat?” onderbreek my pa ons gesprek toe ons aan die ontbyt tafel sit. My ma tittewyt nog in die kamer want dit is al weer dorp tyd.

My pa se oë is groot. Hy het vreeslike kwaai, groen oë. Maar agter daardie kwaai oë berg hy ‘n bitter sagte hartjie wat hy nie maklik wys nie. Net as dit by my kom.

“Ja. Daar was regtig iemand pa.” Adriaan se stem is anders. Ek dink nie hy is bang nie. Ek dink net hy besef nou dat ek wel reg was. Ek dink dit is bekommernis.

♪ “Eks jou een man army. Ek kom jou haal. Een man army. Jou korporaal…”

Anrieke bel hom die laaste tyd baie. Weet nie wat is dit met haar nie. Adriaan staan op en gaan sit buite op die gras reg voor die groot kombuis venster. Ek sien hy skud sy kop en vryf sy boer vingers deur daai krul hare.

“Janks, wat is aan die gang?” My pa se diep stem ruk aan ‘n mens se binneste.

“Ek het nie ‘n koeken clue nie pappa. Ek sou pappa sê as ek geweet het. Ek weet net, daar was ‘n man in ons huis en ek belowe pa dit was nie sy eerste keer in die huis nie. Al die deure is tog gesluit, maar hy moet, net soos elkeen van ons, die een trick ken hoe om by hierdie huis in te kom sonder ‘n sleutel.”

“Hoe is dit? Janke waarvan praat jy?”

“Pappa man! Pa weet! As jy ‘n sterk stokkie, dun houtjie of een van my haar knippies vat en jy manuever vir hom in die slot gaatjie dan kry jy daardie voordeur oop gesluit.”

My pa lig net sy wenkbroue en vat ‘n sluk van sy koffie. Ek kyk by die ruit uit en sien Adriaan staan op en kyk kombuis toe. Hy druk sy foon in sy gatsak en stap voordeur toe.

“Janke hier lê ‘n grippie.”

Grippie?”  vra my pa en kyk na my.

“Knippie pappa.”

My pa spring op en loop voordeur teo Hy mompel iets van die slotte wat verander moet word. My ma gil toe iets daar uit die kamer uit maar g’n mens kan hoor wat sy probeer sê nie. Sy doen dit altyd. Praat met ons as sy in ander vertrekke in die huis is. Dit maak ons almal lekker beneek want ons kan nooit hoor wat sy sê nie en dan raak s vir ons kwaad omdat ons nie terug antwoord nie of ons doen nie wat sy gevra het nie.

“Jy moet ophou dat jou haar knippies die vlak vol lê. Hier lê van dit op die kombuis vensterbank, op die vensterbank by die stoep, op die stoep!”

Ek kan nie help die goed val uit my hare uit nie. Dit is hoekom dit op die stoep lê. Die op die vensterbank in die kombuis is die wat my ma in my sakke kry wanneer sy klere was. Sy sit hulle daar. Ek gaan maar niks sê nie, anders gaan hierdie ‘n eindelose argument word waarvoor ek nie baie lus is nie.

Onsiene Gebrokenheid

Daar was’n onsiene gebrokenheid in my toe die nuus oor die telefoon slegte tyding bring. Was ek koud toe ek hoor dat die dood gekom het? Was ek gerus want die pyn het verdwyn?

Sal die trane my wang brand of sal ek diep asemhaal dat niemand dit sien nie? ‘n Masker dra en vanaad as ek gaan slaap, op my eie rou?

Maar toe hul jou dra in die kerk in en die kis staan daar voor jou foto, het my hart gebreek en ek kon nie die trane terug hou nie.

(Jinne Oupa, ons is net 4 kleinkinders. Ek en my nefies. Oupa kan nou maar vir my glo… ek het nog nooit ‘n man so hard sien huil nie.. Oupa ons gaan jou mis, al oupa se grappe en sê goedjies en ook oupa se hardkoppigheid want op die uiteinde lag ons daaroor.)

Prediker 1: 1- 11 : Alles kom tot niks. Daar is niks blywend nie.

“Alles kom tot niks.”- woorde wat in my kop maal oor en oor. Dan vra ek, wat is die doel dan van alles?

“Daar is niks blywends nie.”Jy kom die wêreld in met niks en jy gaan die wêreld uit met niks. Jy vat niks saam nie. Dit wat jy  besit het is nou niks.

Niks

Niks

Niks.

Warboel in my brein oor jou…

Het jy al ooit gevoel dat jou kop vol woorde is maar jy weet nie hoe om hulle te orden sodat jy daardie woorde kan gebruik op ‘n sinvolle manier om uiteindelik ‘n skryfstuk te kan skryf nie?

Ek wil net heeltyd skryf oor jou, van jou, vir jou…

My hele lewe en hele bestaan draai om jou. Jy besit grootste deel van my brein, my hart, my siel en sommer wie ek is. Jy maak my lag wanneer ek gedink het dit onmoontlik is om te lag.

Jy plaas my op hierdie “stoel” van skoonheid en onskuld. Jy beplan jou lewe rondom my en jy is meer as bereid om vir my te wag.

Ek het so baie om vir jou te sê, maar ek weet wanneer die tyd reg is, al my woorde ook reg lê. Hulle sal vloei soos water oor my lippe en jy sal alles verstaan. Ek sal met jou hart kan praat en hy sal verstaan.

Jyt my gered uit ‘n plek van seerkry. Jy het my kom haal want jy het geweet ek is joune.

Ek sou dieselfde doen, maar ek was so blind op daardie stadium en my trots was te groot.

Maar jy het tot my redding gekom.

Vir jou het ek so baie lief.

Vir nou is dit al wat ek uit my brein kon uithaal.

Vir nou dink ek is dit al wat tel.

Tot ek jou weer sien, sal die wêreld net weer aan my bewys dat ek en jy… ons is gemaak vir mekaar.

Iets so klein en simpel het gemaak dat ons weer praat…

Ek het gestop met my kar sodat ek dit vir jou kan terug gee wat jy wou hê en net dadelik weer ry. Ek wou nie geselsies maak nie want my hart was nog so baie seer. Jy het dadelik dwars gedraai in jou bakkie en my hand gevat. Ek het daar gestaan en ons het gepraat. Gepraat oor wat verkeerd gegaan het. Gepraat oor ‘n misverstand wat harte oop geruk het.

“Ek was nooit kwaad vir jou nie. Ek het net baie seer.”

“Ek weet. En ek is jammer. Ek wil dit reg maak.”

Ek voel hoe brand die son my teen my bors. My hare waai in my gesig. Jy vat toe aan my hande en sê dat my hande vir die eerste keer warm is.

Ek vat aan jou been. Ek wou nader kom en jou soen.

Ek het gesien hoe jy my mond dop hou. Ek het ook die trane in jou oë gesien toe jy sê jy mis my.

Ek dink tie; dammit man. Jy is my trouman. Hoekom het ek nie geveg vir jou nie.

Na drie ure se staan en gesels in die son het ek besluit om huis toe te gaan.

Jy gee my stywe druk en net toe ek dink om om te draai en weg te stap, sit jy jou hande om my wange en soen my.

Jy soen my so hard soos jy nog nooit het nie. Asof jy bang is om my te verloor..

Ek ry weg en bars in trane uit.

“Daardie sê ding van, jy weet eers wat jy gehad as jy dit klaar verloor het, is baie waar.” Dit was jou boodskap.

Daardie boodskap het my hart warm gemaak en ek het geweet dat jy my wel waardeer het, maar op jou manier.

En nou?

Nou is ek gelukkiger as ooit van tevore.